Die Evangelie van die Koninkryk

Iemand het onlangs geskryf en gesê dat ons geestelik blind is en die evangelie verkeerd verstaan. Die skrywer het gesê: “die boodskap van Jesus en die Apostels was die Evangelie van die Koninkryk en nie die evangelie van redding nie. Die evangelie van redding is slegs ‘n deel van die werklike en ‘volledige’ evangelie.” (Beklemtoning bygevoeg)

Hierdie is nie die uitgangspunt van net hierdie skrywer nie. Sy standpunt verteenwoordig min of meer die siening van baie van die hedendaagse mense. Vir hulle is redding net deel van die groter prentjie – en hulle is gedeeltelik reg. Die groter prentjie is die Koninkryk van God. Weer is hulle gedeeltelik reg. Maar wat bedoel hulle met die Koninkryk van God? Vir hulle is dit die letterlike koninkryk wat die kerk besig is om hier op aarde op te rig sodat, wanneer die kerk beheer geneem het, die wêreld skoon gemaak het en die “koninkryk” opgerig het, Jesus weer terug sal kom.

Daarom, vir hulle beteken die groter prentjie die transformasie van hierdie wêreld en sy sisteme. Hulle probeer om dit te doen deur politieke invloed en ekonomiese mag te verkry. Ten einde hulle doel te bereik, moet “christene” geplaas word in posisies van invloed en gesag en die gemeenskap moet getransformeer word deur sosiale, ekonomiese en politieke programme.

Alhoewel hierdie alles baie edel voorkom, is dit kilometers weg van die waarheid. Die bogemelde skrywer het die voorbeeld aangehaal van ‘n kerk in die buiteland wat “noemenswaardige invloed op die kultuur gehad het. Sommige van die lede is in die Parlement; een is ‘n toonaangewende DJ; een ‘n skoonheidskoningin; ‘n ander het ‘n leerplan geskryf wat deur die staat gebruik word om alkoholiste en kinders te help.” Laat ons die “wonderlike” vrugte van hierdie beweging ondersoek:

  1. “Sommige van die lede is in die Parlement”: Jesus en die apostels het nooit enige opdragte gegee dat ons die regering moet oorneem nie. Om die waarheid te sê, Jesus het dit duidelik gemaak dat Sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie en dat Sy diensknegte dit nie op ‘n menslike vlak sal verdedig nie (Joh 18:36). Jesus en Paulus het beide geleer dat ons aan die regering van die dag onderdanig moet wees, maar beide het dit ook duidelik gemaak dat die koninkryke van hierdie wêreld en die Koninkryk van God nie versoenbaar is nie. Paulus stel dit onomwonde dat ons nie met ongelowiges in dieselfde juk moet trek nie (2 Kor 6:14). Die ambag implemente van die politici is gewortel in mag, self, ego en misleiding. Is dit ‘n plek waar ‘n gelowige tuishoort? Ek dink nie so nie. Alle politieke sisteme draai om ‘n menslike koninkryk wat te alle tye in opposisie met die ware Koninkryk van God is.

  2. “toonaangewende DJ”: Hier moet ons die vraag vra: Daar waar DJ’s hulle “werk” doen, vier sensualiteit, slegte musiek, dronkenskap, dwelms, seksuele losbandigheid en baie ander dinge hoogty. Is dit goed, opbouend en heilig?

  3. “skoonheidskoningin”: Weereens, is die tentoonstelling van seks, onbetaamlikheid, verleiding en die verheerliking van die menslike liggaam getuienis van die krag van die “evangelie”? Miskien het ek Spreuke 31 verkeerde verstaan, maar nêrens sien ek dat die wen van bikini-parade een van die kenmerke van ‘n deugsame vrou is nie. Mag die Here ons bewaar!

  4. Vir ‘n leerplan om “deur die staat gebruik te word”, moet dit gestroop wees van enige verwysing na Jesus Christus, skuldbelydenis, bekering, wedergeboorte ens. Dit is heel waarskynlik die humanistiese 12 punt plan wat kinders die psigologiese model van dronkenskap leer, eerder as die geestelike waarheid daaromtrent.

Die Evangelie van die Koninkryk vervang die Evangelie van Bekering deurdat dit die mensdom leer dat hulle die mens se vervalle toestand deur die sielkunde, positiewe denke, groep dinamika en oënskynlik geestelike koddighede kan verbeter. Derhalwe leer dit dat die oplossings vir die sonde buite die kruis gevind kan word. Dit is die hart van die valse evangelie van die koninkryk. Dit is besig om die wêreld op ‘n menslike vlak te verander sonder die ware Evangelie.

Maar wat is die Evangelie van Redding? Paulus het dit as volg omskryf: “Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan … Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte” (1 Kor 15:1-4).

Die waarheid is dat die kerk geen roeping het om die wêreld te verander nie, behalwe deur die prediking van die Evangelie. Ja, ons is die sout en lig en ons moet invloed op ons gemeenskappe uitoefen. Maar ons verander nie die samelewing deur wette nie of deur die regering te verander nie. Ons verander die samelewing een lewe op ‘n slag, soos wat individue weder gebore word en begin om na die beeld van die Seun te verander. Alles anders is oppervlakkig en handel nie met die werklike probleem van die sondige aard van die menslike hart nie. Net die ware Evangelie kan dit doen.

Indien die skrywer sou laat weet het dat voormalige politici, DJ’s, prostitute en maatskaplike manipuleerders nou in die kerk is en dat hulle eerlike beroepe volg, dan sou dit ‘n kragtige getuienis gewees het!  Paulus het van die Korintiërs getuig: “En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God” (1 Kor 6:11). Dit is getuienis van die krag van die Evangelie van Redding!

Verder kan regerings nie verander word deurdat Christene magsposisies inneem nie. Die koninkryke van hierdie wêreld is onredbaar en sal vernietig word die dag wanneer Jesus kom. “In die tyd … sal die God van die hemel 'n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. Hierdie koninkryk sal nie deur 'n ander vervang word nie. Dit sal die ander koninkryk plat trap en vernietig, maar self sal dit vir altyd bestaan” (Dan 2:44). Wat is meer duidelik as hierdie woorde? Dit is belangrik om op te let dat Hy die ander koninkryke gaan vernietig en dat Hy ‘n koninkryk gaan oprig waar die gelowiges saam met Hom sal regeer. Aardse koninkryke kan nie deur ons getransformeer, verander of geheilig word nie. Hulle is deel van ‘n sisteem wat vernietig en vervang moet word – deur GOD.

Die skrywer het ook gesê dat die Here “die hele aarde in al sy dimensies van sonde wil verlos (loskoop)”. Die koninkryk evangelie leer dat hele nasies verlos kan word. Dit is nie Bybels nie. Verlossing kan slegs gebruik word in verband met die prys wat aan die kruis betaal is. “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is” (1 Pet 1:18-19). Slegs die heiliges is derhalwe losgekoop. Die kosbare bloed kan nie die politieke, ekonomiese, sosiale en ekologiese sake van die aarde loskoop nie. Veel eerder sal hulle vernietig word:

Maar die dag van die Here sal so onverwags soos 'n dief kom. En op dié dag sal die hemel met 'n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan. Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe. Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt” (2 Pet 3:10-13).

Dit is die waarheid. Enige iets anders is ‘n ander evangelie!